1 Johannes was toe al klaar in die tronk. Selfs daar in die tronk was die mense aan die praat oor Jesus en sy preke.
2 Johannes was egter nie heeltemal seker wat besig was om te gebeur nie. Nuuskierig stuur hy toe van sy vriende na Jesus toe:
3 “Is U regtig die Messias op wie ons gewag het?” vra hulle. “Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie ’n fout maak en dalk vir ’n verkeerde een wag nie.”
4 Jesus het nie met ’n eenvoudige ja of nee geantwoord nie. Hy het vir hulle gesê: “Luister na my preke en kyk wat Ek alles doen. Gaan dan na Johannes toe en vertel hom:
5 mense wat nie kon sien nie, sien nou weer; mense wat nooit kon loop nie, stap nou tussen ons rond; mense wat uit die dorpe gejaag is omdat hulle melaats was, staan nou weer in die tempel, heeltemal gesond; dowes hoor; mense wat dood was, leef, en mense op wie almal neersien, hoor nou skielik dat hulle vir God baie besonders is.