1 Jesus draai toe na die groep mense wat naby Hom gesit het. Sy getrouste volgelinge was ook onder hulle.
2 “Glo My,” sê Hy, “die Joodse teoloë en Fariseërs weet presies wat daar in die wet van Moses geskryf staan. Al wat hulle heeldag doen, is om die wet te lees.
3 Julle kan gerus maar luister na wat hulle oor die wet van Moses sê en dan ook so leef. Maar oppas! Moet net nie doen wat hulle doen nie. Wat hulle sê en wat hulle doen, is twee verskillende dinge. Hulle woorde en hulle dade verskil soos dag en nag.
4 “Hulle skryf boeke vol streng godsdienstige reëls en stop dit dan in julle hande met die woorde: Doen dit! In hulle eie lewe doen hulle egter nie eens wat op die eerste bladsy staan nie.
5 Al wat vir hulle tel, is wat mense van hulle dink. Dit maak nie saak wat God van hulle dink nie, net solank die mense vir hulle hande klap. Hulle koop die grootste Bybels, bid die langste en sing die hardste in die kerk. Hulle probeer ook so vroom lyk dat ’n mens hulle dadelik tussen duisend ander mense sal uitken.
6 In die kerk hoef julle nie na hulle te soek nie. Julle sal hulle op daardie sitplekke kry waar niemand hulle kan miskyk nie.
7 En dit is vir hulle tog te lekker om in die winkels eerbiedig deur die mense gegroet te word met: ‘Goeiemôre, liewe Dominee,’ of watter titel hulle ook al belangrik laat voel.”
8 “Wees gewaarsku, julle almal wat My volg! Moenie toelaat dat mense dit aan julle doen nie. Moenie dat hulle julle so op ’n verhogie sit met ’n gedominee hier of ’n gepastoor daar nie. Onthou, julle is net belangrik omdat Jesus by wie julle alles gehoor het, belangrik is. Laat al die lof en eer maar na Hom toe gaan. Vir julle moet dit genoeg wees om mekaar se broers en susters genoem te word. Christene is mos deel van God se familie.
9 “Daarom moet julle selfs hier op aarde julle hemelse Vader se gesag bo alles erken, selfs bo die gesag van julle aardse pa.
10 “Oppas daarvoor dat mense na julle begin opsien as ‘supergelowiges’ omdat julle meer weet of meer ervare as hulle in die godsdienstige dinge is. Daar is net Een na wie opgesien mag word, en dit is Christus.
11 “Die reël wat elke gelowige moet onthou, is: onder God se kinders is die een wat die ander dien die belangrikste.
12 Dit beteken dat God die een wat gedurig die belangrikste wil wees en oor ander baas wil speel, heel agter in die ry sal laat staan. Die een wat egter ander dien sonder om gedurig te wonder hoe belangrik dit alles hom gaan maak, sal van God self die ereplek voor in die ry kry.”
13 “Luister, Fariseërs, godsdienstige leiers, julle wat mense so mislei, julle kan maar uit vrees vir God begin bewe. Julle beroof die mense van die kans om naby God te wees en Hom te dien. Julle self weet nie hoe dit voel nie en daarom gun julle dit ook vir niemand anders nie.
15 “Ek sê weer, julle kan maar begin bewe! Julle ry halfpad om die wêreld om een persoon te oortuig dat hy die Joodse godsdiens moet aanneem. En as hy dit doen, wat maak julle dan? Dan maak julle hom soos wat julle self is. En daarmee help julle die arme man die afgrond in, reguit die hel in.
16 “Ja-nee, julle is in die moeilikheid by God. Julle vertel vir almal dat julle net die mense is om hulle geestelik op die regte pad te lei.
17 Tog is julle so blind soos molle. Kyk net wat doen julle: julle sê vir mense dat as hulle iets beloof met hulle vingers gekruis, hulle nie hulle belofte hoef na te kom nie.
18 Maar beloof hulle iets met hulle hand op die Bybel, moet hulle dit ernstig bedoel.
19 Wat ’n klomp onsin! Is daar nou skielik baie meer krag in die buiteblad van die Bybel as in julle gekruiste vingers?
20 “Julle sê ook: ‘As iemand plegtig belowe dat hy iets sal doen, hoef hy nie sy woord te hou nie. As hy egter dieselfde ding beloof, maar dit op ’n stuk papier ook skryf, mag hy nie sy woord breek nie.’ Kry julle nie skaam nie? Wat dink julle is die belangrikste: Julle woorde of die stuk papier?
21-22 Antwoord vir My net dié vraag: Hoe kan gekruiste vingers, ’n stuk papier of die buiteblad van die Bybel nou ’n belofte maak of breek? ’n Belofte is mos ’n belofte! God steur Hom nie aan al hierdie dinge soos vingers of papier nie; vir Hom is ’n belofte ’n belofte wat nie gebreek mag word nie. Dit maak nie saak hoe die belofte gemaak is nie.
23 “Ek waarsku julle, Fariseërs en Joodse teoloë. Julle is pynlik presies oor hoe julle kerk hou en julle werk julle tiendes tot op die laaste sent uit. Maar as dinge gedoen moet word wat regtig vir God saak maak, skitter julle in julle afwesigheid. Ek praat van dinge soos om vir almal ’n regverdige kans te gee; of dat julle so vir mense omgee dat julle hulle graag wil help; of dat mense weet dat hulle julle kan vertrou. Ek sê nou nie die ander dinge wat julle doen, is noodwendig verkeerd nie. Maar dit is niks werd as julle nie ook die dinge doen wat regtig vir God saak maak nie.
24 “Maar nou het julle van die godsdiens iets gemaak wat dit nie is nie. Julle het alles deurmekaargekrap. Wat belangrik is, het julle onbelangrik gemaak, en wat onbelangrik is, het julle belangrik gemaak. Julle is regtig soos mense wat vreeslik oor ’n sent baklei, maar julle nie aan 100 rand steur nie.
25 “Sowaar, julle is soos iemand wat die buitekant van ’n skottel silwerskoon maak, maar dit binne-in net so vuil los. Dit is vir julle baie belangrik hoe mense van buite lyk. Hoe hulle egter van binne lyk, pla julle glad nie. Hulle kan selfs maar vol haat en allerhande ander lelike dinge wees, dit maak nie saak nie.
26 Fariseërs, maak tog asseblief julle oë oop! Sorg eers dat die binnekant mooi skoon is. Dan sal die skottel weer gebruik kan word.”
27 “Julle is regtig op die verkeerde pad. Julle is soos grafte wat bo-op netjies versorg is. Die grafsteen is mooi en die blomme op die graf is te pragtig. Maar binne-in die graf self is daar net ’n klomp dooie bene. Wat ’n kontras!
28 Grafte laat My aan julle dink. As ’n mens na julle kyk, lyk julle soos engeltjies. Maar as ’n mens ’n bietjie dieper kyk, lyk die prentjie anders: dan sien jy huigelaars en mense wat hulle glad nie aan God se wil steur nie.”
29 “Julle rig groot grafstene op vir julle belangrike mense. Julle bou monumente vir julle helde van ouds en sit gedurig met eerbied blomme daar neer. Hieroor is julle ernstig.
30 Julle beweer dat as julle destyds geleef het, julle nie hierdie manne van God kwaad sou aangedoen of sou doodgemaak het soos die mense destyds gedoen het nie.
31 Maar julle is maar net die kinders van daardie mense wat die manne van God vermoor het. Die appel val nie ver van die boom nie. Julle voorouers het die beker halfpad met die bloed van die manne van God volgemaak.
32 Toe, maak julle nou maar daardie werk vir hulle klaar. Maak die beker vol!
33 “Julle klomp bedrieërs! Dink julle julle sal julle uit die hel kan loslieg?
34 Dink dan maar weer! Daarom stuur Ek aanhoudend manne van God na julle toe. Hulle probeer julle op allerhande maniere op die regte pad help. En wat doen julle met hulle? Hierdie een gryp julle en maak hom dood. Daardie een laat julle aan ’n kruis vasslaan. Ander verneder julle voor almal deur hulle by julle vergaderings uit te skel en selfs te slaan. As hulle probeer wegkom, probeer julle dit ook vir hulle so moeilik moontlik maak. Oral waar hulle gaan, is dit dieselfde storie: belediging en vervolging. Daarvoor sorg julle maar alte goed.
35 “Maar julle skuld hoop op. Glo My, God sal julle aankla vir elke druppel bloed van elke goeie mens wat op die grond geval het. Hy gaan julle by Abel begin aankla. Abel was mos ’n goeie mens, maar hy is doodgemaak. Een vir een sal julle na God se aanklagte moet luister tot by Sagaria, Berekja se seun. Julle het hom mos in die middel van die tempel reg voor God se oë doodgemaak.
36 Ek sê julle, julle is net so skuldig soos julle voorouers. God sal julle nie laat loskom nie.
37 “Ai, wat maak julle, mense van Jerusalem? Julle gooi die boodskappers wat God na julle toe stuur met klippe dood. Ek wou julle so graag omhels en julle Vriend wees; glo My, Ek wou. Ek het oor julle gevoel soos ’n hen oor haar kuikens. Maar julle wou niks weet nie. Julle het julle rug vir My gedraai. Daarom kan dit nie anders nie. Daar sal niks vir julle oorbly nie. Alles om julle gaan inmekaarstort.
38 Jerusalem gaan ’n spookdorp word.
39 “Wat kan Ek nog sê? Ek het niks meer om vir julle te sê nie. Ons paaie sal nie weer op hierdie manier kruis nie, in elk geval nie voor die dag waarop julle sal erken en sal moet uitroep nie: ‘God is baie goed vir Hom wat op die gesag van die Here kom.’”