16 Hy het hulle egter baie mooi gevra om dit maar stil te hou en nie te veel oor Hom te praat nie.
17 Dit het hulle herinner aan die woorde van die profeet Jesaja:
18 “Dit is my Seun dié wat Ek uitgekies het, Ek het Hom baie lief. Hy maak My so bly. Hy sal die krag hê wat my Gees gee, met die finale oordeel sal Hy die regter oor alle mense wees.
19 Hy sal nie raas en baklei nie. Hy sal nie op mense in die hoofstraat skel nie.
20 Iemand wat seergekry het, sal Hy nie seerder maak nie. Hy sal ook nie iemand wat in die moeilikheid is, verder in die moeilikheid bring nie; inteendeel! Hy help mense om die geestelike wenpaal te haal. Hulle sal dan nie meer oor God se oordeel bekommerd hoef te wees nie.
21 Mense van oral af sal al hulle hoop op Hom rig!”
22 Toe bring hulle ’n man na Hom toe wat so in die vernietigende mag van die duiwel was dat hy nie eens kon sien of praat nie. Die duiwel was egter nie teen Jesus opgewasse nie. Jesus het die man gesond gemaak. Daarna kon hy weer normaal praat en sien wat om hom aangaan.