28 Julle sal agterkom dat Ek die demone deur die hulp en krag van God se Gees verwilder. Dan sal julle ook moet toegee: waar Ek hier tussen julle werk, is God ook aan die werk. Hy heers tog oor alles en almal.
29 “Kom ons gebruik ’n beeld. Hoe op aarde dink julle sal dit moontlik wees om sommer by die huis van ’n sterk, gesonde man in te stap en voor hom al sy goed te steel? Hy sal jou mos keer, tensy jy hom eers oorrompel en stewig vasbind. “Wat sê hierdie argumente vir julle? Dít, dat julle kan aflei aan wie se kant Ek staan.
30 Nou staan julle voor die keuse: óf julle kom staan aan my kant óf julle gaan staan aan die kant van my vyand.
31 “Daar is niks wat julle kan doen of sê wat so sleg is dat God dit nie sal vergewe nie. Maar daar is een ding wat God glad nie kan verdra nie. Dit is as mense sê dat wat Hy doen van die duiwel af kom en so die Heilige Gees met die duiwel vergelyk.
32 “Julle kan liewer nog hierdie dinge van My sê, maar moenie dit van die Heilige Gees sê nie. Dan is julle regtig in groot moeilikheid by God. God sal julle dit nooit vergewe nie.
33 “Julle weet mos dat sommige bome lekker eetbare vrugte dra, terwyl ander bome se vrugte nutteloos is omdat dit ’n hopelose boom is. ’n Mens weet of ’n boom goed of sleg is deur na sy vrugte te kyk. Net so is dit met mense. Moet julle dus nie dom hou nie. Eetbare vrugte kom nie van nuttelose bome af nie.
34 “Julle spul valse mense. Julle is vrot van binne, maar nogtans hou julle aan met al julle vroom praatjies. Maar julle kan nie wegsteek wat binne-in julle aangaan nie. Uit wat julle sê, verraai julle julleself. Soos die spreekwoord sê: ‘Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.’