34 “Julle spul valse mense. Julle is vrot van binne, maar nogtans hou julle aan met al julle vroom praatjies. Maar julle kan nie wegsteek wat binne-in julle aangaan nie. Uit wat julle sê, verraai julle julleself. Soos die spreekwoord sê: ‘Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.’
35 As jy luister na wat iemand sê, sal jy agterkom of sy gesindheid reg is en hy van ‘binne’ skoon is.
36 Juis daarom sê Ek vir julle: mense wat sommer allerhande lelike dinge van ander sê, sal met die finale oordeel hulle woorde voor God moet gaan verduidelik. Wat jy sê, is dus verskriklik belangrik.
37 Immers, op grond van wat jy sê, sal God besluit of jou saak met Hom reg is of nie.”
38 Van die geleerde Jode antwoord Jesus toe: “Ons sien jy leer die mense so. Ons wil egter nie net ’n gepraat hoor nie. Doen ’n bietjie vir ons iets dat ons kan sien of jy regtig aan God se kant is.”
39 “Ai,” sê Jesus, “mense wat voeling met God verloor en die pad byster geraak het, soek allerhande tekens om hulle te help om by God uit te kom. Ek gaan julle nie in julle kwaad sterk en ’n spesiale teken vir julle gee nie. Tog gaan Ek een uitsondering maak.
40 Iets soortgelyks gaan met My gebeur as wat met die profeet Jona gebeur het. Drie dae en nagte was Jona in die groot vis. Net so sal die Seun van die mens drie dae en nagte lank in ’n graf lê. “Die vergelyking gaan nog verder.