49 “By die laaste oordeel sal dit ook so gaan met die mense. Die mense wat reg gelewe het, sal by God gaan staan.
50 “Maar die hel is die voorland van hierdie klomp slegte mense wat niks vir God omgegee het nie. Daar sal hulle skreeu en kerm van pyn, maar alles tevergeefs.
51 “Begin julle nou verstaan wat Ek vir julle wil sê?” Die dissipels antwoord: “Beslis!”
52 Jesus sê toe vir hulle: “Iemand wat geleerd is in die Joodse wet ken die ou boodskap. As hy My begin volg en verstaan, leer hy ook die nuutheid van God se boodskap ken. Hy is soos iemand wat ou en nuwe dinge in sy huis het en presies weet waar elkeen se plek is.”
53 Jesus is van die meer af terug huis toe.
54 Later is Hy na die byeenkoms van die Jode toe waar Hy lank met die mense oor God se nuwe wêreld gesels het. Hy het aan hulle verduidelik hoe hulle dit moet verstaan. Dit het die mense baie nuuskierig aan die praat gesit. “Waar kom hy aan al hierdie kennis en die krag om hierdie wonderlike dinge te doen?” het hulle gewonder.
55 “Is sy pa nie maar ’n eenvoudige skrynwerker nie? By hom kon hy dit sekerlik nie geleer het nie! En die res van sy familie? By hulle ook nie. Ons ken hulle almal goed, van sy ma Maria af, sy broers Jakobus, Josef, Simon en Judas en sy susters ook, die hele klomp van hulle.