14 Julle moet julle dus nie aan hierdie mense steur nie. Hulle is soos blindes wat ander blindes probeer lei. Julle kan net dink wat met sulke mense gebeur: kort voor lank beland hulle almal in ’n sloot.”
15 Petrus sê toe vir Jesus: “Ek verstaan nie mooi wat U sê nie. Verduidelik asseblief vir ons wat U bedoel.”
16 Jesus antwoord: “Hoe is dit moontlik? Het julle regtig so min begrip vir wat Ek sê?
17 Verstaan julle nie dat alle kos wat ’n mens eet, in jou maag beland en later uit jou liggaam uitgeskei word nie?
18 Maar dit wat jy sê, kom uit jou hart.
19 Dáár ontstaan slegte gedagtes, soos om moord te pleeg, om ontrou aan jou huweliksmaat te wees, om onsedelike dade te pleeg, om te steel en te lieg en lelike dinge teen God te sê.
20 Wanneer jy hierdie dinge uitdink, maak dit jou onrein. Dan is God nie met jou lewe tevrede nie. Dit gaan vir Hom glad nie daaroor of jy jou hande voor ete was of nie. Sulke dinge kan ’n mens nie onrein maak nie.”