4 Petrus het nie mooi verstaan wat aan die gang was nie. Hy bied toe maar aan om drie spesiale tente op te rig: een vir Jesus, een vir Moses en een vir Elia.
5 Terwyl hy nog so staan en praat, het ’n helder wolk hulle skielik omring. Toe sê daar ’n stem uit die wolk: “Dit is my Seun vir wie Ek baie lief is. Wat Hy doen, verskaf My groot vreugde. Luister na wat Hy vir julle sê!”
6 Toe die drie dissipels hierdie stem hoor, het hulle hulle morsdood geskrik. Hulle het plat op hulle gesigte neergeval.
7 Jesus het egter na hulle toe gestap en hulle aangeraak. “Staan maar op. Julle hoef nie bang te wees nie,” het Hy vir hulle gesê.
8 Toe hulle hul oë oopmaak, sien hulle slegs vir Jesus by hulle staan.
9 Daarna, terwyl hulle van die berg afklim, sê Jesus vir die dissipels: “Julle mag vir niemand vertel wat julle op die berg gesien het nie. Eers wanneer Ek, die Seun van die mens, uit die dood opgestaan het, kan julle vir ander mense hiervan vertel.”
10 Hulle vra toe vir Hom: “Hoekom sê al die skrifkenners dan dat Elia eers aarde toe moet kom voordat die Messias sy opwagting maak?”