13 Kort daarna het ’n groep mense hulle kindertjies na Jesus toe gebring met die hoop dat Hy sy hande op hulle sou lê en vir hulle sou bid. Maar die dissipels het hulle verwilder. Hulle wou nie hê dat die mense Jesus onnodig moes lastig val nie.
14 Toe Jesus dit sien, sê Hy dadelik vir sy dissipels: “Wag! Moenie die kindertjies wegjaag nie. Laat hulle na My toe kom. God se nuwe wêreld is juis vir almal soos hulle bedoel. By Hom is daar plek vir almal wat soos klein kindertjies afhanklik is van hulle hemelse Vader se sorg.”
15 Jesus het toe sy hande op hulle geplaas en God se genade oor hulle afgebid. Daarna het Hy vertrek.
16 Op ’n dag het ’n jongman vir Jesus kom sê: “Goeie Leermeester, U praat so baie oor God se nuwe wêreld. Ek wil ook bitter graag daar ’n plek kry. Sê my, watter goeie dinge moet ek doen sodat ek vir altyd daar kan gaan bly?”
17 “Vir wat kom spreek jy My hier voor almal aan as ‘goeie Leermeester’?” het Jesus vinnig gereageer. “Jy weet mos dat daar net Een is wat regtig goed is: God. Maar nou ja, laat Ek jou vraag beantwoord. As jy vir altyd in God se nuwe wêreld wil bly, moet jy sy voorskrifte gehoorsaam. So eenvoudig is dit.”
18 “Watter voorskrifte?” het die man gevra.“Die volgende,” antwoord Jesus. “Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie met iemand buite jou huwelik ’n seksuele verhouding hê nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie leuens vertel nie;
19 jy moet respek vir jou pa en ma hê; en jy moet net soveel vir jou medemens omgee as vir jouself.”