22 Jesus se woorde het die jongman baie omgekrap. Dit was die laaste woorde wat hy wou hoor, want hy was skatryk. Hy was nie van plan om sy besittings aan sy familie en aan die armes uit te deel nie. Die jongman het toe dikmond omgedraai en weggestap.
23 Terwyl Jesus die man agterna kyk, sê Hy vir sy dissipels: “Sien julle, dis glad nie maklik vir iemand wat ryk is om ’n plek in God se wêreld te kry nie.
24 Dit is selfs vir ’n groot kameel makliker om deur die klein gaatjie van ’n naald te stap as wat dit vir ’n ryk persoon is om in God se nuwe wêreld te kom.”
25 Jesus se woorde het die dissipels se voete onder hulle uitgeslaan. Verbysterd vra hulle Hom toe: “Maar wie op aarde kan dan gered word? Hoe sal iemand ooit ’n plek in God se wêreld kry?”
26 Jesus het hulle stip aangekyk. Toe sê Hy vir hulle: “Ja, julle is reg. Op julle eie kan julle nooit daar uitkom nie. Maar God kan enigiets doen. As julle op Hom vertrou, sal Hy sorg dat julle wel in sy wêreld inkom.”
27 Maar Petrus was nog nie tevrede nie: “Wag ’n bietjie, Here! Nou moet U reguit vir ons sê wat ons dissipels se kans is om daar in te kom. Kyk, ons het al ons besittings weggegee en u volgelinge geword.”
28 “Ek het baie goeie nuus vir julle,” antwoord Jesus. “Wanneer God se nuwe wêreld aanbreek, sal Ek as die Seun van die mens daar as Koning regeer. Ek self sal sorg dat julle die heel beste plekke daar kry. Julle sal soos konings op twaalf trone gaan sit en oor almal in Israel oordeel.