21 “Die keiser s’n,” antwoord hulle vinnig.“As die geld met die keiser se beeld daarop die keiser s’n is, gee dit vir hom. “Maar onthou, julle is volgens God se ‘beeld’ gemaak. Julle behoort aan Hom en daarom moet julle seker maak dat julle julleself aan God gee.”
22 Hierdie antwoord het die opposisie se plan heeltemal deurmekaargekrap. Hulle het nie geweet wat om te sê nie. So stil-stil is hulle maar daar weg.
23 Dieselfde dag nog het die Sadduseërs Jesus ook probeer vastrek. Hulle was die Joodse party wat nie in die lewe na die dood geglo het nie. Hulle het veral uit die ryk en belangrike families in Jerusalem gekom.
24 “Jy is mos iemand wat ander leer,” begin hulle. “Laat ons jou net herinner aan Moses se woorde: ‘As ’n getroude man sonder kinders sterf, moet sy broer met sy weduwee trou. Hulle moet dan ’n seun kry om so te sorg dat die familienaam nie uitsterf nie.’
25 Sê nou daar is ’n familie met sewe seuns. Die eerste seun trou, maar gaan dood voor hy ’n kind kon hê. Volgens Moses se wet moet die weduwee met die tweede seun trou.
26 Hy is egter ook dood sonder dat daar ’n kind is. So gaan dit met al sewe broers.
27 Uiteindelik is die vrou sonder ’n kind dood.