30 As mense uit die dood opstaan, tel sulke dinge soos getroud wees nie meer nie. Nee, hulle gaan soos die engele geestelike wesens wees.
31 Het julle ook nog nie in julle Bybel gelees wat God oor die opstanding uit die dood sê nie? Hy sê:
32 Ek is nou nog die God van Abraham, Isak en Jakob. God is nie ’n dooie God of die God van dooies nie. Hy is die God van die lewendes. As dit so is, beteken dit Abraham, Isak en Jakob is dood of lewendig? As God, asook hierdie voorvaders, dan leef, wat sê dit van die lewe na die dood?”
33 Die mense het stil na Hom gesit en luister. Hy het hulle net al hoe meer beïndruk met die manier waarop Hy oor hierdie moeilike sake gepraat het.
34 Die nuus het gou by die Fariseërs uitgekom dat Jesus die Sadduseërs in ’n hoek gedryf het. Hulle het besluit om weer te probeer en het soos een man om Jesus saamgetrek.
35 Een van hulle beste geleerdes vra toe vir Jesus ’n vraag. Hy wou hê Jesus moes Hom vaspraat. Daarom het hy sy vraag dubbelsinnig gestel.
36 “Watter opdrag is die belangrikste in die wet?” Die Fariseër het geweet dat as Jesus sê een opdrag is belangriker as die ander, Hy die eenheid van die wet sou aantas. Sê Hy weer almal is ewe belangrik, sou sommige voel Hy tas die eer van God aan. So sou Hy God, wat die belangrikste van almal is, natuurlik beledig.