13 “So kan julle seker wees dat julle vir ewig saam met Hom sal leef; daarvoor sal Hy self sorg. Een ding is egter seker. Al hierdie haat en vyandskap sal die boodskap van God in hierdie wêreld nie kan stilmaak nie.
14 Die goeie nuus van God moet en sal uitkom vir almal om te hoor. Oor die hele wêreld sal dit weergalm. Dit sal by elke nasie uitkom. “Dan sal die einde van hierdie wêreld kom. Dit sal natuurlik ’n nuwe begin vir elke gelowige beteken.”
15 “As julle in die tempel daardie veragtelike ‘ding’ sien staan wat alles net wil vernietig, moet julle vinnig padgee. Die ‘ding’ is so veragtelik dat Ek nie eens sy naam wil noem nie. Die profeet Daniël het oor hierdie ‘ding’ geskryf. As julle lees wat hy geskryf het, sal julle verstaan wat Ek bedoel.
16 “As julle in daardie stadium in die omgewing van Jerusalem is, moet julle so gou moontlik in die heuwels gaan wegkruip.
17 As jy op jou stoep sit, moenie eers weer in die huis ingaan om enigiets te gaan haal nie.
18 As jy op die lande werk, moenie eers mooi gaan aantrek nie; maak net dat jy wegkom.
19 Ek kry veral vroue jammer wat dan babas verwag of klein babatjies het. Hulle gaan swaarkry!