32 “Julle het gevra wanneer die Seun gaan kom. Luister na hierdie voorbeeld uit die natuur: Hoe weet ’n boer die somer is naby? Hy kyk na die vrugtebome. As hulle begin blaartjies en blommetjies maak, weet hy dat die somer op hande is.
33 Net so moet al hierdie dinge waarvan Ek nou gepraat het, vir julle die blaartjies en blommetjies wees wat sê dat die Seun op pad is.
34 “Luister mooi. Wat Ek hier sê, is vir julle bedoel. In julle leeftyd sal hierdie dinge al begin gebeur. Moenie dink dit is blote praatjies nie.
35 Julle dink die aarde en die hemel staan vas, maar Ek sê vir julle dat my woorde 100 maal vaster staan.
36 “As julle na alles wat Ek gesê het nog nie tevrede is nie, maar die presiese uur, minuut en sekonde van die wederkoms wil weet, moet Ek julle teleurstel. Niemand weet wanneer die wederkoms gaan plaasvind nie, nie eens Ek nie. God en net Hy alleen sal daaroor besluit.
37 “Maar laat Ek julle ten minste nog ’n voorbeeld gee. Miskien help dit. Julle almal ken die verhaal van Noag.
38 Terwyl Noag aan die ark geswoeg het, het die ander mense doodnormaal geleef asof niks gaan gebeur nie. Hulle het hulle aan niks anders gesteur as aan die alledaagse dinge soos wat daar te ete is of wie met wie trou nie. As jy na hulle gekyk het, het dit gelyk asof daar geen probleme was nie. Toe klim Noag in die ark, en dit het hulle ook nie beïndruk nie.