68 Terwyl hulle Hom klap, jou hulle Hom uit: “Wie’t jou geklap, Christus? Toe, sê vir ons. Jy noem jouself mos ’n profeet!”
69 Terwyl hulle binne so tekere gaan, het Petrus buite in die agterplaas gesit. Een van die werkers kom toe daar na hom toe. Dit was ’n vrou. “Vir jou het ek al gesien. Jy is mos een van die vriende van Jesus, die man uit Galilea.”
70 Petrus skud sy kop heftig voor almal. “Moenie laf wees nie! Ek weet nie eens van wie jy praat nie.”
71 Hy staan op en stap deur se kant toe. Voor hy by die deur uit is, loop hy in ’n ander vrou vas. “Julle is reg! Hierdie man is een van Jesus van Nasaret se vriende.”
72 Weer het Petrus sy kop heftig geskud en gesê: “Ek sweer, ek ken hierdie man van geen kant af nie!”
73 Dit was nie lank nie of ’n groepie mans kom staan daar by Petrus. “Sowaar, jy moet deel wees van daardie groep volgelinge van Jesus. Ons kan dit aan jou aksent hoor. Julle klomp uit Galilea praat mos anders as ons hier in Judea.”
74 Dit het Petrus laat swets om te wys hoe ernstig hy was. “Ek sweer, man, ek het hierdie man nog nooit eens ontmoet nie!”