11 Johannes het ook met die ander mense gepraat wat na hom toe gekom het. Hy het vir hulle gesê: “Soos julle kan sien, doop ek julle nou met water. Hierdie doop is die bewys dat julle jammer is oor julle sondes en dat julle wil doen wat God vra. Maar ek het goeie nuus vir julle: binnekort kom daar ’n baie belangrike Man. Hy is so belangrik dat ek nie eens werd is om sy skoene soos ’n slaaf vir Hom aan te dra nie. Hy sal julle met die Heilige Gees doop. Hy sal julle soos ’n vuur van binne af skoonmaak.
12 “Hierdie belangrike Man wat na julle toe op pad is, sal al die koring van die kaf kom skei. Hy gaan ’n duidelike streep trek tussen mense wat na God luister, en mense wat nie na Hom luister nie. Vir almal wat doen wat Hy sê, sal Hy ’n plek gee in God se nuwe wêreld. Maar almal wat hulle nie aan God se voorskrifte steur nie, sal Hy in die hel gooi. Daar gaan hulle gepynig word in ’n vuur wat nooit ophou brand nie.”
13 In daardie tyd, terwyl Johannes besig was om te preek, het Jesus van Galilea af na die Jordaan toe gekom. Hy wou ook hê dat Johannes Hom moes doop.
14 Maar Johannes wou dit nie doen nie. “Nooit nie! Ek behoort eintlik deur U gedoop te word!” het Johannes geskok gesê. “U is mos nie ’n sondaar soos al die ander mense wat ek doop nie. Hoekom kom U na my toe dat ek U moet doop?”
15 Jesus wou nie nee vir ’n antwoord aanvaar nie. “Doop My nou dadelik!” het Hy Johannes beveel. “Want dit is wat God wil hê. So voldoen Ek en jy aan God se groot plan om die wêreld te red.”
16 Toe Johannes dit hoor, het hy dadelik ingestem. Toe Jesus ná sy doop uit die water uitkom, het die hemel skielik oopgegaan. Johannes het gesien hoe die Gees van God soos ’n duif uit die hemel afkom en op Hom neerdaal.
17 Toe praat ’n stem uit die hemel. Dit was God self. Hy het gesê: “Dit is my Seun vir wie Ek baie lief is. Hy verskaf My baie vreugde!”