5 Van heinde en ver het hulle na hom toe gekom: uit Jerusalem, oral uit Judea en uit die omgewing van die Jordaanvallei.
6 Almal van hulle wat in die openbaar erken het dat hulle nie doen wat God van hulle vra nie, is daar by die Jordaan deur hom gedoop.
7 Op ’n dag het Johannes gesien dat ’n klomp Joodse godsdienstige leiers ook na hom toe kom om gedoop te word. Hy was baie omgekrap daaroor. “Julle skynheiliges! Julle seil soos ’n klomp slinkse slange hier na die doopwater toe. Weet julle nie dat God se oordeel baie naby is nie? Wie het vir julle gesê julle kan dit vryspring as ek ’n klomp water oor julle uitgooi?
8 Kry eerder julle lewe in orde en doen wat God sê. Wys dat julle berou het oor al julle sondes.
9 Moenie julleself bluf deur te sê Abraham is julle pa nie. Dit tel nie by God nie. Hy trek nie mense voor wat uit Abraham se nageslag kom nie. As sulke dinge vir God belangrik was, kon Hy mos die klippe wat hier rondlê in ’n oogwink in kinders van Abraham verander het.
10 “Ek sê weer vir julle: God se oordeel is voor die deur. Hy is op pad na julle toe soos ’n houtkapper met sy byl in die hand. Hy gaan elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, uitkap en in die vuur van die hel gooi.”
11 Johannes het ook met die ander mense gepraat wat na hom toe gekom het. Hy het vir hulle gesê: “Soos julle kan sien, doop ek julle nou met water. Hierdie doop is die bewys dat julle jammer is oor julle sondes en dat julle wil doen wat God vra. Maar ek het goeie nuus vir julle: binnekort kom daar ’n baie belangrike Man. Hy is so belangrik dat ek nie eens werd is om sy skoene soos ’n slaaf vir Hom aan te dra nie. Hy sal julle met die Heilige Gees doop. Hy sal julle soos ’n vuur van binne af skoonmaak.