16 Maar hulle almal leef in die donker. Nou het hulle egter ’n groot lig gesien! Hulle bly in ’n land waar die dood se skaduwee oor almal val, maar nou het die son oor hulle opgekom.”
17 Van toe af het Jesus ook begin preek. Hy het vir die mense gesê: “Julle moet julle lewe radikaal verander, want God se nuwe wêreld is hier!”
18 Eendag het Jesus by die See van Galilea gaan stap. Hy kom toe af op twee broers, Simon en Andreas. (Simon is later Petrus genoem.) Hulle twee was vissermanne. Hulle was juis besig om hulle nette in die see te gooi toe Jesus vir hulle sê:
19 “Laat staan julle nette. Kom agter My aan! Word my volgelinge. Dan sal Ek julle wys hoe om op ’n nuwe manier vis te vang. Ek sal julle leer om van nou af mense te vang wat in sonde leef sodat hulle deel kan kry aan God se nuwe wêreld.”
20 Dadelik het Simon en Andreas hulle visnette neergesit en agter Jesus begin aanstap.
21 ’n Entjie verder het Jesus op nog twee broers afgekom, Johannes en Jakobus. Saam met hulle pa, Sebedeus, was hulle hard aan die werk om hulle visnette heel te maak. Jesus het by hulle gaan staan en ook vir hulle gesê om alles net so te los en sy volgelinge te word.
22 Hulle het uit hulle boot geklim, hulle pa gegroet en agter Jesus aangestap.