10 Jesus was nogal verbaas en beïndruk oor wat die man gesê het. “Sowaar,” sê Hy vir die mense daar, “Ek het nog niemand onder die Israeliete raakgeloop wat so kinderlik glo soos hierdie man nie. By hom kan julle ’n belangrike les leer. God is nie maar net die God van die Israeliete nie.
11 Nee, mense uit die hele wêreld gaan na Hom toe stroom. En Hy sal hulle met oop arms ontvang. Glo My, hierdie nie-Jode gaan almal in die hemel langs Abraham, Isak en Jakob aan die feestafel van God self aansit.
12 “Dit is ’n ironiese les. Die mense wat weet dat hulle die hemelse Koning regtig moet dien, maar dit nie doen nie, sal uit God se feessaal weggejaag word. In die donker van die hel sal die pyn en smart van mense wat sonder God is hulle oorweldig.”
13 Toe draai Jesus weer na die offisier toe. “Gaan maar huis toe. Wat jy so gelowig gevra het, het klaar gebeur.” Sy seun het dadelik gesond geword.
14 Uiteindelik kom Jesus by Petrus se huis aan. Met die intrapslag kon Jesus sommer sien dat Petrus se skoonma glad nie lekker voel nie. Sy was vuurwarm van die koors en het net daar op haar bed gelê.
15 Jesus stap toe nader en vat haar hand. Dadelik het haar koors gebreek en sy het beter begin voel. Om die waarheid te sê, sy het soveel beter gevoel dat sy dadelik opgestaan en vir Jesus kos gemaak het.
16 Die mense wou Jesus nie met rus laat nie. Tot diep in daardie nag was Hy nog besig. Veral mense op wie bose geeste ’n houvas gekry het, het na Hom toe gekom. Jesus het dié mense gehelp deur bloot met ’n bevel daardie geeste uit hulle te jaag. Daar was ook baie ander mense wat met allerhande siektes gesukkel het. Een vir een het Jesus hulle gesond gemaak.