20 “Wel,” sê Jesus, “jy moet goed nadink. Soos jy weet, moet selfs diere ’n blyplek hê. Kyk, voëls bly in neste en jakkalse in gate. Maar dit moet jy besef: daar gaan tye kom dat dit so swaar met My sal gaan dat Ek nie eens ’n plek sal hê om te slaap nie. Sê My, sal jy dan nog by My wil wees?”
21 Een van Jesus se getroue volgelinge sê toe: “Here, verskoon my ’n rukkie, asseblief. Ek moet eers gou teruggaan huis toe om te gaan help met die reëlings vir my pa se begrafnis. U kan maar solank vooruitgaan. Ek kom later.”
22 Jesus het nie doekies omgedraai nie: “Jou pad na die ware lewe toe loop agter My aan. Loop daardie pad voluit! Moenie allerhande afdraaipaadjies soek nie. Daar is genoeg ander mense wat nie hierdie pad wil loop nie. Laat hulle hulle ophou met dinge soos begrafnisse.”
23 Uiteindelik kom Jesus by die boot. Hy en sy getrouste volgelinge klim toe in en vaar na die ander kant toe.
24 Op pad oorkant toe het daar skielik ’n verskriklike storm op die meer losgebars. Die golwe was so hoog dat ’n mens nie eens meer die boot behoorlik kon sien nie. Tog het Jesus gelê en slaap. Hy het mos die vorige nag deurgewerk.
25 Sy dissipels kon dit later nie meer hou nie en maak Hom wakker: “Here, help! Ons is besig om onder te gaan!”
26 “Het julle geen vertroue in My nie?” vra Jesus. “Sê My, as julle regtig in My glo, waarvoor is julle dan so bang? Dink julle julle sal ooit kan ondergaan as Ek by julle is?” Hy staan toe op en beveel die wind met gesag in sy stem om te gaan lê en die see om stil te word. Skielik, asof iemand ’n kombers van kalmte oor die meer getrek het, was alles stil.