24 Op pad oorkant toe het daar skielik ’n verskriklike storm op die meer losgebars. Die golwe was so hoog dat ’n mens nie eens meer die boot behoorlik kon sien nie. Tog het Jesus gelê en slaap. Hy het mos die vorige nag deurgewerk.
25 Sy dissipels kon dit later nie meer hou nie en maak Hom wakker: “Here, help! Ons is besig om onder te gaan!”
26 “Het julle geen vertroue in My nie?” vra Jesus. “Sê My, as julle regtig in My glo, waarvoor is julle dan so bang? Dink julle julle sal ooit kan ondergaan as Ek by julle is?” Hy staan toe op en beveel die wind met gesag in sy stem om te gaan lê en die see om stil te word. Skielik, asof iemand ’n kombers van kalmte oor die meer getrek het, was alles stil.
27 Die mense was uit die veld geslaan en het uit pure verbasing vir mekaar gevra: “Het julle gesien? Die wind en die see luister na Hom! Wie is Hy? Waar kom Hy vandaan?”
28 Kort daarna het Jesus-hulle in die gebied van die Gadareners aangekom. Hulle het skaars daar geland of twee woeste, wreedaardige mans het uit die begraafplaas na hulle toe aangehardloop gekom. Hierdie mans was totaal in die mag van demone. Hulle was baie gevaarlik. Om die waarheid te sê, die mense was so bang vir daardie mans dat hulle glad nie eens meer met dié pad langs wou loop nie. Die twee mans storm toe op Jesus af en gil hard:
29 “Haai, Seun van God, wat kom soek U hier? U het niks hier te doen nie. Of is U dalk hier om ons voor die tyd te kom bestraf?”
30 Die demone het egter geweet wat op hulle wag. Hulle sien toe daar ver teen die skuinste ’n groot trop varke loop en smeek Jesus: