27 Die mense was uit die veld geslaan en het uit pure verbasing vir mekaar gevra: “Het julle gesien? Die wind en die see luister na Hom! Wie is Hy? Waar kom Hy vandaan?”
28 Kort daarna het Jesus-hulle in die gebied van die Gadareners aangekom. Hulle het skaars daar geland of twee woeste, wreedaardige mans het uit die begraafplaas na hulle toe aangehardloop gekom. Hierdie mans was totaal in die mag van demone. Hulle was baie gevaarlik. Om die waarheid te sê, die mense was so bang vir daardie mans dat hulle glad nie eens meer met dié pad langs wou loop nie. Die twee mans storm toe op Jesus af en gil hard:
29 “Haai, Seun van God, wat kom soek U hier? U het niks hier te doen nie. Of is U dalk hier om ons voor die tyd te kom bestraf?”
30 Die demone het egter geweet wat op hulle wag. Hulle sien toe daar ver teen die skuinste ’n groot trop varke loop en smeek Jesus:
31 “Asseblief, ons vra mooi: as U ons uit hierdie mans verwilder, laat ons tog toe om in daardie trop varke te gaan bly.”
32 “Nou maar goed; sorg net dat julle hier wegkom!” sê Jesus.Die demone is daarna uit die mans uit, reguit in die varke in. Die varke het heeltemal mal geword. Hulle het verwilderd op loop gegaan, reguit die see in. Daar het die laaste een van hulle versuip.
33 Die varkoppassers het so groot geskrik dat hulle in ’n stofstreep reguit dorp toe is. Daar het hulle die hele storie gaan vertel. Hulle het presies beskryf wat met die twee mans en met die varke gebeur het.