8 “Maar, Here, ek is nie belangrik genoeg dat U na my huis toe kom nie; beslis nie iemand so belangrik soos U nie! Ag, sê sommer maar hier wat moet gebeur. Ek is seker my seun sal dan gesond word.
9 Ek weet mos watter krag die woorde het van iemand wat gesag dra. Niemand hoef my iets daarvan te vertel nie, want ek is ’n soldaat en ek weet wat gesag is. Ja, elke liewe dag sê ek vir my soldate wat om te doen. En my woorde word hulle dade. As ek sê: ‘Kom!’ kom hulle en as ek sê: ‘Gaan!’ gaan hulle. Wat ek vir hulle sê om te doen, dit doen hulle.”
10 Jesus was nogal verbaas en beïndruk oor wat die man gesê het. “Sowaar,” sê Hy vir die mense daar, “Ek het nog niemand onder die Israeliete raakgeloop wat so kinderlik glo soos hierdie man nie. By hom kan julle ’n belangrike les leer. God is nie maar net die God van die Israeliete nie.
11 Nee, mense uit die hele wêreld gaan na Hom toe stroom. En Hy sal hulle met oop arms ontvang. Glo My, hierdie nie-Jode gaan almal in die hemel langs Abraham, Isak en Jakob aan die feestafel van God self aansit.
12 “Dit is ’n ironiese les. Die mense wat weet dat hulle die hemelse Koning regtig moet dien, maar dit nie doen nie, sal uit God se feessaal weggejaag word. In die donker van die hel sal die pyn en smart van mense wat sonder God is hulle oorweldig.”
13 Toe draai Jesus weer na die offisier toe. “Gaan maar huis toe. Wat jy so gelowig gevra het, het klaar gebeur.” Sy seun het dadelik gesond geword.
14 Uiteindelik kom Jesus by Petrus se huis aan. Met die intrapslag kon Jesus sommer sien dat Petrus se skoonma glad nie lekker voel nie. Sy was vuurwarm van die koors en het net daar op haar bed gelê.