14 Johannes se volgelinge het ook begin wonder waarom Jesus-hulle so anders optree wanneer dit by godsdienstige gebruike kom. Hulle vra toe vir Jesus: “Kyk hoe getrou hou ons en die ander godsdienstige Jode die vastye. Vir lang tye sonder ons ons vir God af en eet niks nie. Waarom steur jou dissipels hulle glad nie daaraan nie?”
15 Jesus antwoord: “Wel, omdat nuwe dinge in hierdie wêreld aan die gebeur is. Op ’n troue staan mense mos nie en huil nie. Allesbehalwe! Terwyl die troue aan die gang is, hou almal mos fees. As die fees eers verby en die bruidspaar weg is, kan hulle weer met hulle gewone lewe aangaan en huil as hulle wil.
16 “Laat Ek dit so verduidelik: as iemand ’n gat in ’n ou rok regmaak, lap sy dit nie met nuwe materiaal wat kwaai sal krimp nie. Met die eerste was sal daardie nuwe lap mos krimp en ’n yslike gat in die ou rok skeur.
17 “Nog ’n voorbeeld: julle weet goed dat die leer van sakke waarin wyn ’n lang ruk gehou word, sag word en maklik skeur. Julle sal mos nie wyn wat nog moet gis in daardie sagte sakke gooi nie. As die wyn gis, sal die gas daarvan die sagte sakke laat skeur. Dan loop al julle wyn uit. Nee, nuwe wyn gooi ’n mens in sterk, nuwe sakke. Die sakke sal dan nie skeur nie en jou wyn sal ook nie uitloop nie.“Dus, as God se nuwe wêreld hier is, word nuwe optrede van mense verwag.”
18 ’n Vername leier uit daardie omgewing kom val toe voor Jesus neer: “Kom, asseblief! My dogter is nou net dood! Kom vat net aan haar en ek weet sy sal weer begin leef. Asseblief!” smeek hy.
19 Sonder om te huiwer staan Jesus en sy dissipels op om saam met hom te gaan.
20 Onder die mense was daar ’n vrou wat twaalf jaar lank al vreeslik gebloei het. Niks wou help nie en