16 “Laat Ek dit so verduidelik: as iemand ’n gat in ’n ou rok regmaak, lap sy dit nie met nuwe materiaal wat kwaai sal krimp nie. Met die eerste was sal daardie nuwe lap mos krimp en ’n yslike gat in die ou rok skeur.
17 “Nog ’n voorbeeld: julle weet goed dat die leer van sakke waarin wyn ’n lang ruk gehou word, sag word en maklik skeur. Julle sal mos nie wyn wat nog moet gis in daardie sagte sakke gooi nie. As die wyn gis, sal die gas daarvan die sagte sakke laat skeur. Dan loop al julle wyn uit. Nee, nuwe wyn gooi ’n mens in sterk, nuwe sakke. Die sakke sal dan nie skeur nie en jou wyn sal ook nie uitloop nie.“Dus, as God se nuwe wêreld hier is, word nuwe optrede van mense verwag.”
18 ’n Vername leier uit daardie omgewing kom val toe voor Jesus neer: “Kom, asseblief! My dogter is nou net dood! Kom vat net aan haar en ek weet sy sal weer begin leef. Asseblief!” smeek hy.
19 Sonder om te huiwer staan Jesus en sy dissipels op om saam met hom te gaan.
20 Onder die mense was daar ’n vrou wat twaalf jaar lank al vreeslik gebloei het. Niks wou help nie en
21 sy het geredeneer: “As ek net aan Jesus kan raak, weet ek ek sal gesond word.” Toe Jesus dus opstaan, kry sy haar kans. Sy kom van agter af en vat aan Hom.
22 Jesus draai om en kyk vir haar: “Jou dae van bekommernis is verby. Omdat jy so vas geglo het in wat Ek vir jou kan doen, sal daardie siekte jou nooit weer pla nie.” En die vrou was van daardie oomblik af gesond.