18 ’n Vername leier uit daardie omgewing kom val toe voor Jesus neer: “Kom, asseblief! My dogter is nou net dood! Kom vat net aan haar en ek weet sy sal weer begin leef. Asseblief!” smeek hy.
19 Sonder om te huiwer staan Jesus en sy dissipels op om saam met hom te gaan.
20 Onder die mense was daar ’n vrou wat twaalf jaar lank al vreeslik gebloei het. Niks wou help nie en
21 sy het geredeneer: “As ek net aan Jesus kan raak, weet ek ek sal gesond word.” Toe Jesus dus opstaan, kry sy haar kans. Sy kom van agter af en vat aan Hom.
22 Jesus draai om en kyk vir haar: “Jou dae van bekommernis is verby. Omdat jy so vas geglo het in wat Ek vir jou kan doen, sal daardie siekte jou nooit weer pla nie.” En die vrou was van daardie oomblik af gesond.
23 Daarna is Jesus-hulle saam met die vername man. By sy huis kry hulle mense wat vreeslik huil en rou. Dit het ’n groot lawaai afgegee. Jesus skreeu toe bo die geraas uit:
24 “Gaan asseblief uit die huis uit. Die dogtertjie is nie regtig dood nie. Sy slaap net.” Toe die mense Hom dit hoor sê, was daar ’n beroering. Hulle kon hulle lag nie hou nie en het Hom begin koggel.