30 dat ek vandag my belofte sal nakom wat ek lank gelede in die Naam van die Here, die God van Israel, aan jou gemaak het. Jou seun Salomo sal inderdaad koning word wanneer ek nie meer daar is nie.”
31 Batseba was oorstelp van vreugde. Sy het laag gebuig en gesê: “Mag koning Dawid vir altyd in die herinnering van sy mense voortleef.”
32 Toe het Dawid vir Sadok, Natan en Benaja laat kom en vir hulle gesê:
33 “Vat nou al my lyfwagte en dan laat julle my seun Salomo op my eie muil klim. Gaan julle dan almal saam met hom na die Gihonfontein toe.
34 Laat Sadok die priester, en Natan die profeet hom daar voor almal as koning van Israel salf. Laat die trompette klink en die mense skree: ‘Lank lewe koning Salomo!’
35 Gaan dan saam met hom terug en laat hom op my troon sit. Ja, laat hom daar sit, want hy is die een wat na my sal regeer. Ek het hóm gekies om oor Israel en Juda te regeer.”
36 “Ons sal so maak,” het Benaja geantwoord. “En mag die Here, u God, ons help dat alles goed sal verloop.