1 Konings 2 DB

Dawid se laaste bevele

1 Toe Dawid voel sy einde is naby, het hy sy seun Salomo laat kom. Soos ’n goeie pa het hy Salomo ’n paar laaste stukkies goeie raad gegee.

2 “Binnekort sal ek soos alle mense sterf,” het Dawid begin. “Maar jy moet moed hou en sterk wees.

3 Doen wat die Here jou God van jou vra. Leef volgens die riglyne wat Hy vir Moses gegee het. Gehoorsaam sy wette en kom al sy voorskrifte na. As jy dit doen, sal dit altyd met jou goed gaan.

4 As jy getrou is, sal die Here sy belofte aan my nakom. Lank gelede het Hy belowe dat my nageslag altyd oor Israel sal regeer. Maar dan moet my kinders Hom met alles in hulle, ja, met hulle hele wese, liefhê en getrou aan My bly.

5 “Daar is ook iets anders. Jy onthou nog vir Joab? Hy het mos destyds twee van my generaals sonder rede doodgemaak. Die een was Abner die seun van Ner, en die ander een Amsa die seun van Jeter. Dit was onnodig en boonop nog in vredestyd. Die hele ding bly my hinder. Dit is of hulle bloed nou nog aan my lyf en my klere en my skoene kleef.

6 Ek wil nie vir jou voorsê wat om te doen nie. Daarvoor is jy slim en wys genoeg, maar moenie dat Joab se daad ongestraf bly nie.

7 “Wees egter baie goed vir die seuns van Barsillai, die man van Gilead. Sorg tog vir dié mense, want hulle het my destyds gehelp toe ek vir jou broer Absalom gevlug het.

8 “O ja, daar is nog iemand. Dit is Simeï die seun van Gera. Hy kom van ’n klein dorpie, Bahurin, in die stamgebied van Benjamin. Die einste Simeï het my eendag vreeslik gevloek toe ek op pad Mahanajim toe was. Net duskant die Jordaan het ons mekaar raakgeloop en toe het hy my gevloek. Ek het hom egter in die Naam van die Here beloof om hom nie dood te maak nie.

9 Ek wil weer nie vir jou voorskryf nie, maar Simeï se daad moet gestraf word. Omdat jy slim is, sal jy weet wat om te doen.”

10 Toe het Dawid gesterf. Hulle het hom by sy mense in Jerusalem, die stad waar Dawid gewoon en gewerk het, begrawe.

11 Dawid het 40 jaar oor Israel regeer, eers sewe jaar in Hebron en toe 33 jaar in Jerusalem.

12 Salomo het sy pa as koning opgevolg. Sy koningskap is deur almal aanvaar en hy het ’n vaste greep op sy koninkryk gehad.

Adonia wil met Abisag trou

13 Op ’n dag het Adonia, die seun van Haggiet, vir Batseba, die ma van Salomo, besoek. “Kom jy in vrede?” het Batseba gevra. “Ja,” het Adonia geantwoord.

14 “Ek wil u iets vra,” het hy voortgegaan. “Wat is dit?” het Batseba gevra.

15 Adonia het gesê: “U weet tog dat ek eintlik koning moes geword het. Baie mense in Israel het ook so gedink, maar toe het dinge anders verloop. My broer het koning geword, want die Here wou dit so gehad het.

16 Ek wil u ’n groot guns vra. Moet dit asseblief nie weier nie.” “Wat is dit, Adonia?” het Batseba gevra.

17 Adonia het keelskoongemaak en toe gevra: “Sal u nie asseblief met koning Salomo praat en hom vra of ek met Abisag, die vrou uit Sunem, mag trou nie? As u hom namens my vra, weet ek hy sal luister.”

18 “Goed,” het Batseba gesê, “ek sal met die koning oor jou versoek gesels.”

19 Batseba het met die koning oor Adonia se versoek gaan praat. Toe sy die vertrek binnekom, het Salomo opgestaan en in eerbied voor sy ma gebuig. Hy het weer op sy troon gaan sit en gesê hulle moet vir sy ma ’n stoel bring. Batseba het aan die regterkant van Salomo gaan sit.

20 Na ’n ruk het Batseba vir Salomo gesê: “Ek kom met ’n klein versoekie en ek hoop jy sal dit nie weier nie.” “Wat is dit, Ma?” het Salomo gesê. “Ek help mos graag.”

21 Batseba sê toe: “Kan jou broer Adonia tog nie maar met Abisag trou nie?”

22 “Wat?” het Salomo gesê. “Hoe kan Ma dit vra? Adonia vra vir Abisag, maar eintlik wil hy my koningskap hê. Hy is my ouer broer. En Abjatar die priester en Joab, die seun van Seruja, is natuurlik kop in een mus met hom. Nee, jammer, Ma, maar Adonia kry nie vir Abisag nie!”

23 Salomo was woedend. Hy sê toe: “Mag die Here my straf as ek Adonia skotvry laat wegkom.

24 Die Here het my koningskap voorspoedig gemaak en almal is aan my getrou. Lank gelede al het die Here my pa beloof dat ek en my kinders oor Israel sal regeer. Daarom sal ek vandag nog sorg dat Adonia vir sy opstand teen die koning boet.”

25 Salomo het toe sy polisiehoof, Benaja, opdrag gegee om Adonia te arresteer en hom oor sy ontrouheid tereg te stel.

Abjatar word ontslaan

26 Salomo het vir Abjatar laat kom en vir hom gesê: “Eintlik verdien jy die dood, maar ek sal jou toelaat om na jou tuisdorp Anatot terug te gaan. Ek spaar jou omdat jy as priester naby aan die Here was toe jy die ark gedra het en omdat jy my pa in al sy swaarkry bygestaan het.”

27 Salomo het Abjatar weggestuur. Hy was nie meer een van die Here se priesters in Jerusalem nie. So het die woorde van die Here in verband met die ondergang van Eli en sy kinders se priesterskap in Silo waar geword.

Joab word om die lewe gebring

28 Toe Joab hoor wat gebeur het, het hy baie bang geword, want hy het Adonia ondersteun. Destyds was hy aan Dawid se kant teen Absalom, maar nou het hy vir Adonia gekies. In sy angs het Joab na die tent waar die Here teenwoordig was, gevlug en krampagtig aan die hoeke van die altaar vasgeklou.

29 Toe Salomo hoor Joab het na die tent gevlug en hou wanhopig aan die altaar se hoeke in die tent vas, het hy iemand na Joab toe gestuur. Hy moes uitvind waarom Joab na die tent toe gevlug het. Joab het gesê dat hy uit vrees vir Salomo na die Here gevlug het. Toe hy dit hoor, het Salomo Benaja ontbied. “Gaan maak hom dood,” het Salomo vir Benaja gesê.

30 Benaja is na die tent toe en het vir Joab gesê: “Die koning sê jy moet buitentoe kom.” “Nooit nie,” het Joab gesê. “As ek dan moet sterf, sterf ek net hier.” Benaja is daar weg en het die koning alles vertel wat Joab gesê het.

31 “Doen dan wat Joab sê jy moet doen,” het Salomo geantwoord. “Maak hom daar op die plek dood en begrawe hom dan. Ek en my pa se kinders sal dan nie meer verantwoordelik gehou kan word vir Joab se moord op twee van my pa se generaals nie.

32 Met Joab sal presies gebeur wat hy destyds met Abner, die hoof van Israel se leër, en Amasa, die hoof van Juda se troepemag, gedoen het. Sonder my pa se medewete het hy twee onskuldige mense doodgemaak.

33 Joab se nageslag sal vir ewig die gevolge van hierdie verraderlike moord moet dra. Die Here sal egter altyd naby die kinders van Dawid wees wat oor Israel regeer.”

34 Benaja is onmiddellik na die tent toe. Hy het Joab net daar doodgemaak en hom by sy huis in die woestyn laat begrawe.

35 Salomo het Benaja in die plek van Joab as hoof van die leër aangestel terwyl Sadok, die priester, Abjatar se take oorgeneem het.

Simeï word doodgemaak

36 Daarna het Salomo Simeï laat kom en vir hom gesê: “Jy kan vir jou ’n huis in Jerusalem bou, maar jy mag nooit die stad verlaat nie.

37 As jy ooit buite Jerusalem gaan of selfs maar deur die stroompie hier onder in die Kidrondal loop, is jy dood. En dit sal dan jou eie skuld wees.”

38 “Dit is goed so, U Majesteit,” het Simeï geantwoord. “Ek sal maak soos u sê.” Simeï het in Jerusalem gaan woon en ’n lang tyd daar gebly.

39 Drie jaar later het twee van Simeï se slawe weggeloop. Hulle het vir Akis, die seun van Maok en die koning van Gat, vir meer geld gaan werk.

40 Toe Simeï hiervan hoor, was hy woedend. Sonder om verder te dink het hy sy donkies gepak en is na koning Akis toe in Gat. Hy wou ten alle koste sy slawe terugkry.

41 Toe Salomo hiervan hoor, was die gort gaar. Hy het Simeï laat kom en gesê:

42 “Jy het my voor die Here beloof dat jy Jerusalem nooit sal verlaat nie. Ek het jou gewaarsku as dit gebeur, gaan jy met jou lewe betaal. Het jy nie destyds ingestem en gesê dat jy my bevel sal gehoorsaam nie?

43 “Hoekom het jy nie jou belofte nagekom nie? Waarom was jy ontrou?

44 “Jy onthou nog al die slegte dinge wat jy vir my pa gesê het. Hiervoor gaan die Here jou vandag straf. Met jou sal dit van nou af net sleg gaan.

45 Die Here sal egter by my wees en Hy sal Dawid se troon tot in ewigheid beskerm.”

46 In opdrag van Salomo het Benaja Simeï by sy huis gaan doodmaak.

47 Salomo was nou volkome in beheer van die hele land.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22