45 By die Gihonfontein het Sadok en Natan hom as koning gesalf. Daarna is hulle terug stad toe terwyl die volk vrolik gesing en gedans het. Tans is die stad die ene uitbundigheid. Dit is die geraas wat julle nou daar hoor.
46 Salomo het selfs op die koning se troon gaan sit.
47 Maar iets ergers het nog gebeur. Al die koning se amptenare is na koning Dawid toe om hom met sy seun geluk te wens. Almal het gesê hulle hoop dat God vir Salomo beroemder en voorspoediger as Dawid sal maak.
48 Die koning het by sy bed gekniel en gesê: ‘Kom ons loof die Here, die God van Israel, wat vandag een van my eie kinders koning laat word het. Loof die Here dat elkeen van ons dit met ons oë kon sien.’”
49 ’n Groot angs het Adonia en sy gaste beetgepak. Almal het vinnig opgespring en is daar weg. Elkeen het sy eie koers ingeslaan.
50 Adonia was benoud en baie bang dat Salomo hom sou kry. Hy het toe sommer reguit na die tent waar die Here teenwoordig was, gehardloop en aan die hoeke van die altaar gaan vashou.
51 Hulle het vir Salomo vertel dat Adonia bang is vir hom en krampagtig aan die hoeke van die altaar vasklou terwyl hy aanmekaar sê: “Ek los nie voordat koning Salomo gesweer het hy sal my nie doodmaak nie.”