19 Die troon het ses trappe gehad waarmee ’n mens tot bo kon loop. Die troon se kopstuk was rond en by elke armleuning het daar ’n groot beeld van ’n leeu gestaan.
20 Twaalf beelde van leeus is aan weerskante van die ses trappe geplaas. Nêrens in die wêreld was daar so ’n troon nie.
21 Al koning Salomo se drinkbekers is van goud gemaak en alles wat in die Libanonsbosgebou gebruik is, was van suiwer goud. Geen silwer is ooit gebruik nie, want silwer was in Salomo se dae waardeloos.
22 Salomo het ook ’n uitstekende vloot gehad. Sy skepe het altyd saam met Hiram se vloot na ver plekke geseil. Elke drie jaar het hulle dan met goud, silwer, ivoor, ape en bobbejane teruggekom.
23 Koning Salomo was ryker en slimmer as enige ander koning.
24 Die hele wêreld wou hom kom besoek. Hulle wou na al die wysheid wat die Here vir hom gegee het, kom luister.
25 Elkeen wat gekom het, het vir hom ’n geskenk saamgebring: allerlei goed wat van goud en silwer gemaak is, klere, wapens, speserye, perde en donkies. Dit het jaar na jaar so aangehou.