6 Sy het vir Salomo gesê: “Alles wat ek van u in my eie land gehoor het, is waar. Alles is presies soos die mense gesê het.
7 Ek moes self kom kyk, anders sou ek dit nooit geglo het nie. En ek het skaars nog die helfte gehoor. U kennis en u rykdom is nog baie groter as wat hulle my vertel het.
8 Hoe gelukkig is u mense darem nie! Hoe gelukkig is die amptenare nie wat elke dag saam met u werk en al u wysheid hoor nie!
9 Prys die Here, u God! Hy het u so liefgehad dat Hy u koning van Israel gemaak het. Hy het ook sy volk Israel so liefgehad dat Hy u as koning aangestel het sodat u vir hulle kan leer hoe om reg te leef.”
10 Sy het toe vir die koning al die geskenke gegee wat sy saamgebring het: 4 000 kilogram goud en ’n groot hoeveelheid juwele en speserye. Niemand sou ooit weer soveel en sulke goeie geskenke ontvang nie.
11 (Hiram se vloot wat vir Salomo goud uit Ofir gebring het, het ook ’n groot hoeveelheid jenewerhout en juwele saamgebring.
12 Salomo het van die jenewerhout relings vir die tempel en die paleis gemaak. Hy het ook vir die tempelsangers harpe en liere van die hout laat maak. Dit was die allerbeste jenewerhout wat nog ooit na Israel toe gebring is. Hierna sou daar ook nooit weer sulke kosbare hout in Israel wees nie.)