16 Joab en die hele Israel het ses maande lank ’n guerrilla-oorlog teen Edom gevoer en hulle weermag vernietig.
17 Hadad en ’n klompie van sy pa se werkers het egter daarin geslaag om na Egipte te ontsnap. Hadad was in daardie stadium nog maar ’n kind.
18 Hulle het deur Midian by Paran aangekom. Daar het ander mense ook by hulle aangesluit en hulle is saam daar weg. Toe hulle in Egipte aankom, is hulle reguit na die koning toe. Die koning het vir Hadad ’n stuk grond met ’n huis gegee en hom van kos voorsien.
19 Hadad en die koning het goeie vriende geword. Die koning het selfs sy skoonsuster, die suster van koningin Tagpenes, vir Hadad as vrou gegee.
20 Sy het vir Hadad ’n seun gegee wat hy Genubat genoem het. Genubat is deur die koningin grootgemaak en het net soos die ander seuns van die koning geleef.
21 Toe Hadad hoor dat Dawid en Joab albei dood is, het hy vir die koning gesê: “Laat my asseblief na my land teruggaan.”
22 “Hoekom wil jy teruggaan?” het die koning verbaas gevra. “Het ek dan iets verkeerds gedoen?” “Nee,” het Hadad gesê, “laat my asseblief net gaan.” Hadad is daar weg. Hy het toe die koning van Edom geword. Hadad het Israel gehaat.