30 Agija het sy nuwe mantel uitgetrek en dit in twaalf stukke begin skeur.
31 “Vat vir jou tien stukke,” het hy vir Jerobeam gesê. “Die Here, die God van Israel, sê vandag vir jou: ‘Ek is op die punt om Salomo se koninkryk van twaalf stamme van hom af weg te skeur en tien daarvan vir jou te gee.
32 Salomo se koninkryk sal dan uit net een stam, die stam van Juda, bestaan. Ter wille van Dawid, en omdat Ek Jerusalem bo alle plekke gekies het om in te woon, sal Salomo se nageslag oor hierdie een stam regeer.
33 Ek doen al hierdie dinge omdat Salomo My nie meer liefhet nie. Hy het ander gode begin aanbid. Gode soos Astarte die godin van Sidon, Kemos die god van Moab en Milkom die god van Ammon. Salomo het nie meer na My geluister nie. Hy het nie soos sy pa, Dawid, volgens my wil geleef nie.
34 Terwyl Salomo nog leef, gaan daar niks gebeur nie. Sy koninkryk sal nie tydens sy regering verdeel word nie. Ek doen dit ter wille van Dawid wat Ek gekies het, wat vir My lief was en wat na my gebooie en wette geluister het.
35 Na Salomo se dood sal Ek die koninkryk van sy seun Rehabeam verdeel en tien stamme vir jou gee.
36 Een stam sal nog oorbly en Salomo se nageslag sal daaroor regeer. Soos Ek belowe het, sal daar altyd een van Dawid se nageslag in Jerusalem regeer. Jerusalem is die stad wat Ek gekies het en dit is die plek waar Ek aanbid word.