1 Rehabeam is na Sigem toe. Al die mense uit die noorde van die land het daar bymekaargekom om hom te kroon.
2 Toe Jerobeam die seun van Nebat van hierdie groot volksbyeenkoms hoor, is hy onmiddellik uit Egipte weg. Hy het destyds soontoe gevlug omdat Salomo hom wou doodmaak.
3 Van die noorde se mense het hom ook van die byeenkoms laat weet. Jerobeam het teruggekom en is saam met al die mense na Rehabeam toe.
4 By Sigem het die mense toe vir die koning gesê: “Rehabeam, u pa het ons baie sleg behandel. Hy het die lewe vir ons regtig moeilik gemaak. As u nou ons las ’n bietjie ligter en die lewe vir ons ’n bietjie makliker gaan maak, sal ons u getrou dien.”
5 Rehabeam het egter gesê: “Ek wil eers daaroor gaan dink. Kom oor drie dae terug en dan sal ek julle sê wat ek besluit het.”
6 Rehabeam het toe met die ouer en ervare mans wat nog vir sy pa gewerk het, gaan gesels. “Wat dink julle moet ek vir die mense sê?” het hy gevra.
7 Hulle het geantwoord: “As u werklik vir hierdie mense omgee, maak dan die lewe vir hulle makliker, en hulle sal u altyd getrou dien.”