12 Drie dae later het Jerobeam en die noorde se mense weer bymekaargekom. Hulle was gretig om te hoor wat Rehabeam gaan antwoord.
13 Omdat Rehabeam die ouer mans se raad verwerp het, het hy hard en lelik met die mense gepraat.
14 Omdat hy die jonger mans se raad gevolg het, het hy sonder enige tegemoetkomendheid gesê: “My pa het julle swaar laat kry, maar ek sal julle nog swaarder laat kry. Hy het julle met ’n sweep geslaan, maar ek gaan julle met gesels slaan.”
15 Dinge het presies gebeur soos die Here deur die profeet Agija van Silo vir Jerobeam gesê het. Dit is waarom Rehabeam nie eens na die ouer mense wou luister nie.
16 Toe die noorde se mense Rehabeam se storie hoor, het hulle almal begin skree: “Weg met Dawid en sy nageslag! Ons is nie deel van Dawid se mense nie! Wat het hulle al ooit vir ons gedoen! Israel, kom ons gaan huis toe. Laat Rehabeam maar self sien en kom klaar.” So het die mense van Israel hulle teen Rehabeam verset.
17 Israel het toe hulle eie pad geloop. Al wat vir Rehabeam oorgebly het, was die een stam, die stam van Juda in die suide van die land.
18 Rehabeam het vir Adoniram, die man wat Salomo nog oor die dwangarbeiders aangestel het, gestuur om met Israel te gaan praat. Hulle het hom so gehaat dat hulle hom sommer met klippe doodgegooi het. Toe Rehabeam sien wat gebeur, moes hy vinnig voor die skare padgee. Hy het net-net weggekom en is terug Jerusalem toe.