2 Toe Jerobeam die seun van Nebat van hierdie groot volksbyeenkoms hoor, is hy onmiddellik uit Egipte weg. Hy het destyds soontoe gevlug omdat Salomo hom wou doodmaak.
3 Van die noorde se mense het hom ook van die byeenkoms laat weet. Jerobeam het teruggekom en is saam met al die mense na Rehabeam toe.
4 By Sigem het die mense toe vir die koning gesê: “Rehabeam, u pa het ons baie sleg behandel. Hy het die lewe vir ons regtig moeilik gemaak. As u nou ons las ’n bietjie ligter en die lewe vir ons ’n bietjie makliker gaan maak, sal ons u getrou dien.”
5 Rehabeam het egter gesê: “Ek wil eers daaroor gaan dink. Kom oor drie dae terug en dan sal ek julle sê wat ek besluit het.”
6 Rehabeam het toe met die ouer en ervare mans wat nog vir sy pa gewerk het, gaan gesels. “Wat dink julle moet ek vir die mense sê?” het hy gevra.
7 Hulle het geantwoord: “As u werklik vir hierdie mense omgee, maak dan die lewe vir hulle makliker, en hulle sal u altyd getrou dien.”
8 Rehabeam het egter die ouer mans se raad summier verwerp. Hy wou eerder hoor wat die jonger mans sê, die mans wat saam met hom grootgeword het en wat nou belangrike posisies beklee het.