12 “Watter pad het die man gevat?” het die ouer profeet gevra. Sy seuns het hom so vaagweg die pad beduie.
13 Die ouer profeet se seuns moes dadelik vir hom ’n donkie opsaal en hy is toe agter die man uit Juda aan.
14 Na ’n ruk het die ouer profeet hom onder ’n groot boom gekry. “Is jy die man van God uit Juda?” het die ouer man gevra.“Ek is,” het hy gesê.
15 “Kom saam met my huis toe. Ek sal jou lekker kos gee en jy kan ook ’n bietjie rus.”
16 “Ongelukkig kan ek nie, Meneer,” het die profeet uit Juda gesê. “Ek mag nie saam met u huis toe gaan en by u eet nie.
17 Die Here het my uitdruklik belet om enigiets hier te eet of te drink. Ek moes selfs nie eers met dieselfde pad teruggaan as wat ek gekom het nie.”
18 Maar die ouer profeet het hom geantwoord: “Komaan, ek is ook ’n profeet, nes jy, en die Here het vir my gesê om jou saam te vat huis toe en vir jou kos te gee.” Die ou man het egter gelieg.