14 Na ’n ruk het die ouer profeet hom onder ’n groot boom gekry. “Is jy die man van God uit Juda?” het die ouer man gevra.“Ek is,” het hy gesê.
15 “Kom saam met my huis toe. Ek sal jou lekker kos gee en jy kan ook ’n bietjie rus.”
16 “Ongelukkig kan ek nie, Meneer,” het die profeet uit Juda gesê. “Ek mag nie saam met u huis toe gaan en by u eet nie.
17 Die Here het my uitdruklik belet om enigiets hier te eet of te drink. Ek moes selfs nie eers met dieselfde pad teruggaan as wat ek gekom het nie.”
18 Maar die ouer profeet het hom geantwoord: “Komaan, ek is ook ’n profeet, nes jy, en die Here het vir my gesê om jou saam te vat huis toe en vir jou kos te gee.” Die ou man het egter gelieg.
19 Die man uit Juda is toe saam met hom daar weg en het saam met die ouer profeet by sy huis geëet en gedrink.
20 Terwyl hulle nog so by die tafel sit, het die Here skielik deur die ouer profeet met die man uit Juda gepraat.