26 Toe die ouer profeet daarvan hoor, het hy gesê: “Dit is mos die man uit Juda wat nie gedoen het wat die Here vir hom gesê het nie. Vir sy straf het ’n leeu hom nou doodgemaak. Dit het gebeur soos die Here vir hom gesê het.”
27 Hy het onmiddellik sy seuns beveel om vir hom ’n donkie op te saal.
28 Na ’n ruk het hy by die plek aangekom. Die leeu en die donkie het nog steeds langs die dooie man gestaan. En die leeu het nie die man se liggaam verbrysel of die donkie opgevreet nie.
29 Die ou man het die lyk op sy donkie gelaai en Bet-El toe gebring. Hy wou oor hom rou en hom begrawe.
30 Hy het die man uit Juda in sy eie graf begrawe en hulle het oor hom getreur.
31 Na ’n ruk het die ouer profeet vir sy seuns gesê: “Wanneer ek die dag doodgaan, moet julle my in dieselfde graf begrawe as die man uit Juda,
32 want sy woorde oor die altaar in Bet-El en al die ander aanbiddingsplekke in Samaria sal nog waar word. Alles wat hy gesê het, het van die Here gekom.”