3 Die profeet het verder gesê: “Iets ergers gaan nog gebeur. Dit sal die teken wees dat die Here gepraat het. Hierdie altaar sal in ’n klomp stukke breek en die as van al die offers sal oral deur die wind verstrooi word.”
4 Toe Jerobeam dit hoor, was hy woedend en het gesê: “Gryp die man.” Op daardie oomblik het die koning se hand heeltemal styf geword. Hy kon dit nie weer terugtrek nie.
5 Skielik het die altaar ineengestort en die as van die offers is oral versprei, net soos die profeet op bevel van die Here gesê het.
6 Jerobeam het benoud vir die profeet gesê: “Vra asseblief die Here jou God om my hand gesond te maak.” Die profeet het die Here gesmeek en die koning se hand was weer normaal.
7 Jerobeam was baie bly en het vir die profeet gesê: “Kom saam met my huis toe. Daar kan jy ’n bietjie rus en ek wil sommer ook vir jou ’n geskenk gee.”
8 “Nee, Meneer,” het die profeet gesê, “al gee u my ook die helfte van u besittings, ek gaan nie saam met u nie. Ek mag hier niks eet of drink nie.”
9 Die profeet het presies gesê wat die Here vir hom gesê het. Hy moes niks van die koning vat nie en hy moes ook met ’n ander pad teruggaan huis toe.