16 Asa en Baesa, koning van Israel, het gedurig teen mekaar oorlog gemaak.
17 Op ’n dag het Baesa Juda binnegeval en Rama versterk sodat niks of niemand Juda kon binnegaan of verlaat nie.
18 Asa het bang geword. Hy het toe al die goud en silwer wat in die tempel opgeberg is, asook alles wat hy in die paleis kon kry, bymekaargemaak en vir sy amptenare gegee. Hulle moes onmiddellik na Ben-Hadad, koning van Sirië, die seun van Tabrimmon en die kleinseun van Gesjon, wat in Damaskus woon, vertrek.
19 Hulle moes namens Asa vir Ben-Hadad sê: “Daar is mos ’n ooreenkoms tussen ons twee, net soos daar ook een tussen ons pa’s was. Hier is vir u ’n geskenk van goud en silwer, maar ek vra dat u my moet help. Verbreek tog u ooreenkoms met Baesa sodat hy uit Juda sal padgee.”
20 Ben-Hadad het ingestem en sy beste generaals en hulle leërs na Israel toe gestuur. Hulle het die dorpe van Israel aangeval. Hy het Ijon en Dan en Abel-Bet-Maäka verower, asook die hele Gennesaret en die land van Naftali.
21 Toe Baesa hiervan hoor, het hy opgehou met die bouwerk in Rama en dadelik na Tirsa teruggegaan.
22 Asa het toe die hele Juda opgeroep. Niemand is verskoon nie. Hulle het na Rama opgeruk en al Baesa se stene en hout gevat en ander stede daarmee begin bou. Asa het Geba in Benjamin en Mispa met die materiaal uit Rama gebou.