23 Alles wat Asa verder gedoen het, sy dapper dade en al sy bouwerke, is in die boek Die lewe en werk van al Juda se konings opgeteken. Op sy oudag het Asa kruppel geloop omdat hy ’n voetsiekte gehad het.
24 Asa het gesterf en is in die grafte van die konings in die Dawidstad begrawe. Sy seun Josafat het hom opgevolg.
25 In die tweede jaar van Asa van Juda se regering het Nadab koning van Israel geword. Nadab het net twee jaar regeer.
26 Nadab het baie verkeerde dinge gedoen. Hy het sy pa se voorbeeld gevolg.
27 Baesa, ’n seun van Agija uit die stam van Issaskar, het ’n komplot teen Nadab gesmee om hom uit die weg te ruim. Terwyl Nadab op ’n keer vir Gibbeton, ’n stad in die Filistynse gebied, beleër het, het Baesa hom oorval en vermoor.
28 Dit het gedurende die derde jaar van koning Asa van Juda se regering gebeur. Baesa het in die plek van Nadab koning van Israel geword.
29 Baesa het dadelik Jerobeam se familie stelselmatig begin uitmoor.