9 Simri, ’n senior offisier en die hoof van ’n groot deel van die oorlogswaens, wou Ela uit die weg ruim. Hy het net vir die regte oomblik gewag. Op ’n dag was Ela in die huis van Arsa, die hoof van die paleis. Ela het te veel gedrink en was dronk.
10 Simri het toe by die huis ingebars en Ela op die plek vermoor. So het Simri koning van Israel geword. Dit het gebeur in die 27ste jaar van koning Asa van Juda se regering.
11 Simri het onmiddellik Baesa se hele familie begin uitmoor. Al die mans, asook hulle vriende, is uitgewis.
12 Dit het gebeur presies soos die Here dit deur die profeet Jehu gesê het. Simri het gesorg dat die hele Baesafamilie doodgemaak word.
13 Baesa en sy seun Ela se talle afgode was ’n groot skande voor die Here, die God van Israel. En hulle het Israel ook verlei om ander gode te aanbid.
14 Alles wat Ela gedoen het, is in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings opgeteken.
15 In die 27ste jaar van koning Asa van Juda se regering het Simri koning van Israel geword. Hy het in Tirsa gewoon en het net sewe dae daar regeer.