17 Toe Agab hom sien, het hy vir Elia gesê: “Ja, jou onrusstoker. Al wat jy in Israel doen, is om moeilikheid te maak.”
18 “Dit is nie ek wat al die ellende in Israel veroorsaak het nie, U Majesteit, maar u en u pa,” het Elia gesê. “Dit is u wat die Here verlaat en Baäl aanbid het.
19 Gebruik nou u gesag en laat die hele Israel saam met my op die berg Karmel bymekaarkom. Bring ook die 450 profete van Baäl saam, asook die 400 profete van Asjera vir wie Isebel kos en klere gee.”
20 Agab het toe die hele Israel en al die Baälprofete beveel om saam op Karmel bymekaar te kom.
21 Toe almal daar bymekaar was, het Elia vir hulle gesê: “Wanneer gaan julle besluit vir wie julle wil dien? As die Here die ware God is, volg Hom. Maar as julle Baäl as julle god wil dien, doen dit dan. Maak net vandag ’n keuse.” Die volk het doodstil gesit en nie ’n woord gesê nie.
22 “Ek is die enigste profeet van die Here wat vandag hier is terwyl hier 450 Baälprofete teenwoordig is,” het Elia gesê.
23 “Bring nou vir ons twee bulle. Laat die Baälprofete vir hulle ’n bul uitsoek, dit in stukke sny en op die hout sit. Moet net nie dat hulle die vuur aansteek nie. Ek sal die ander bul vat, dit slag en op die hout sit. Ek sal dit ook nie self aansteek nie.