27 Teen die middag se kant het Elia met die profete van Baäl begin spot. “Roep ’n bietjie harder,” het hy gesê. “Probeer weer, want hy is dalk in gedagte of besig. Of miskien is hy weg, of iewers op reis. Wie weet, dalk slaap julle god net, dan moet julle hom wakker maak.”
28 Die Baälprofete het nog harder begin bid. Toe dit nie werk nie, het die profete hulleself met skerp swaarde en messe begin stukkend sny sodat hulle vol bloed was, soos hulle gewoonte was. Hulle het dit gedoen om hulle god se aandag te probeer trek.
29 Laat daardie middag het die profete met alles wat hulle gehad het, begin skree en smeek. Niks het egter gebeur nie. Hulle het aangehou skree en raas totdat dit tyd was vir die aandoffer in Jerusalem.
30 Toe het Elia vir hulle gesê: “Kom, staan nader.” Almal het om Elia gaan staan. Hy het die altaar van die Here, wat die Baälprofete beskadig het, eers gou herstel.
31 Hy het twaalf groterige klippe gevat en dit opmekaargestapel. Die twaalf klippe moes die mense aan die twaalf stamme herinner, asook aan Jakob, wie se naam na Israel verander is.
32 Met die stene het Elia die altaar van die Here herbou. Hy het ook ’n diep watersloot om die altaar gegrawe.
33 Hy het toe die hout netjies op die altaar reggesit, die bul geslag en die stukke op die hout neergesit. Toe sê Elia: “Vat nou vier groot kruike en maak dit vol water. Gooi dan alles oor die bul en die hout uit.” Hulle het so gemaak.