37 Antwoord my vandag, Here, op so ’n manier dat hierdie volk sal besef U is die ware God en dat hulle na U moet terugkeer.”
38 Skielik het die Here ’n vuur uit die hemel gestuur. Dit was so kragtig dat dit die bul, die hout en die stene heeltemal verwoes het. Dit het ook die aarde verskroei en selfs die water in die sloot in ’n oogwink laat opdroog.
39 Toe die mense dit sien, het hulle op die grond neergeval en hard uitgeroep: “Die Here is die enigste ware God! Die Here is die enigste ware God!”
40 Toe sê Elia vir die mense: “Gryp die Baälprofete. Moenie dat een wegkom nie.” Elia het hulle toe na die Kisonrivier geneem en gesorg dat hulle almal doodgemaak word.
41 Elia het toe vir Agab gesê: “Meneer, u kan maar huis toe gaan en solank begin feesvier, want ek hoor al die plofgeluid van ’n stortreën.”
42 Terwyl Agab feesvier, het Elia na die bopunt van die berg Karmel toe gestap. Daar het hy neergebuig en sy kop tussen sy knieë gesit.
43 Elia het vir sy helper gesê: “Klim nog hoër en kyk na die see se kant toe.” Die helper het teruggekom en gesê: “Ek sien niks nie.” Elia het sewe keer vir hom gesê om te gaan kyk.