11 “Gaan buitentoe,” het die Here gesê, “en gaan staan op die berg voor die Here.” Toe het ’n geweldige sterk wind gewaai wat die berge geskeur en al die rotse uitmekaargebreek het. Die Here was egter nie in die wind nie. Na die wind was daar skielik ’n groot aardbewing, maar die Here was ook nie in die aardbewing nie.
12 Net na die aardbewing was daar ’n verskriklike vuur, maar die Here was ook nie in die vuur nie. Na die vuur was daar ’n groot stilte en iets soos ’n stem wat fluister.
13 Toe Elia dit hoor, het hy sy kleed om sy gesig gedraai en in die ingang van die spelonk gaan staan. ’n Stem het hom gevra: “Elia, wat maak jy hier?”
14 Hy het geantwoord: “Here, U ken my. My hele lewe lank dien ek met groot ywer nog net vir U. Israel het egter die rug vir U gedraai. Hulle het die altare waar U aanbid word, vernietig en al u profete vermoor. Nog net ek het oorgebly en nou soek hulle my lewe ook. Dit is waarom ek besluit het om te vlug.”
15 “Gaan terug,” het die Here vir Elia gesê. “Op pad moet jy deur die woestyn tot by Damaskus gaan en daar moet jy vir Gasael as die nuwe koning van Aram aanwys.
16 Verder moet jy na Jehu, die seun van Nimsi, gaan soek en hom met olie salf as teken dat hy die nuwe koning van Israel sal wees. Dan moet jy na Elisa seun van Safat uit Abel-Megola toe gaan. Hy is jou opvolger en jy moet hom ook salf as teken dat hy by jou gaan oorneem.
17 “Hierdie drie persone sal die ontroue Israel straf. Wie van Gasael ontsnap, sal deur Jehu doodgemaak word. En wie Jehu ontglip, sal met Elisa te doen kry.