5 Elia was so moeg dat hy net daar aan die slaap geraak het. Skielik het ’n engel aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Sit regop en eet eers iets.”
6 Verdwaas het hy rondgekyk en naby hom ’n stuk brood en ’n kruik vol water gesien. Hy het geëet en gedrink. Daarna het hy weer gaan lê en aan die slaap geraak.
7 Die engel het hom weer wakker gemaak. “Staan op en eet, want jy moet nog ’n ver ent stap. As jy nie nou eet nie, gaan die pad te lank word.”
8 Elia het alles geëet en gedrink en dit het hom krag gegee om 40 dae lank na Horeb, die berg van die Here, te stap.
9 By Horeb het Elia die eerste nag in ’n spelonk gebly. Diep in die nag het die Here met hom gepraat: “Elia, wat presies maak jy hier?”
10 Elia het geantwoord: “Here, U is die enigste ware God. My lewe lank dien ek met groot ywer net vir U. Israel het egter die rug vir U gedraai. Hulle het die altare vernietig waar U aanbid word en al u profete vermoor. Ek is die enigste een wat oorgebly het. Maar nou wil hulle my ook doodmaak. Dis hoekom ek besluit het om te vlug.”
11 “Gaan buitentoe,” het die Here gesê, “en gaan staan op die berg voor die Here.” Toe het ’n geweldige sterk wind gewaai wat die berge geskeur en al die rotse uitmekaargebreek het. Die Here was egter nie in die wind nie. Na die wind was daar skielik ’n groot aardbewing, maar die Here was ook nie in die aardbewing nie.