5 ’n Dag of wat later het Ben-Hadad weer ’n boodskap gestuur. “Ek het intussen van plan verander,” het hy vir Agab gesê. “Ek het gesê jy moet al jou goud en silwer, en al jou vroue en kinders vir my gee.
6 Jy hoef dit nie meer te doen nie. Môreoggend hierdie tyd sal ek my mense stuur en hulle sal dit sommer self kom haal. Hulle sal jou huis, asook al die huise van jou amptenare, deursoek en alles vat wat hulle wil hê.”
7 Agab was baie ontsteld hieroor. Hy het die land se leiers bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Ben-Hadad wil ons heeltemal vernietig. Eers het hy net die vroue en kinders sowel as die goud en silwer gevra. Ek het ingestem, maar nou het hy sy deuntjie verander. Nou wil hy alles kom vat.”
8 “Moenie toegee nie! Moet u nie aan hom steur nie,” het die leiers en die mense gesê.
9 Agab het toe vir die boodskappers van Ben-Hadad gesê: “Sê vir die koning ek weier. Ek sal hom alles gee wat hy vra, maar hy gaan nie alles hier kom vat nie.” Die boodskappers is toe daar weg.
10 Ben-Hadad was kwaad en het nog ’n boodskap gestuur: “Luister hier, Agab, ek het genoeg soldate dat die stof van Samaria nie genoeg sal wees om hulle hande mee te vul nie. As ek hulle nie bring nie, kan die gode my maar doodmaak.”
11 Agab het hom geantwoord: “Luister, Ben-Hadad, hier by ons is daar ’n spreekwoord wat sê dat niemand wat die wapen opneem, moet dink hy het reeds gewen nie.”