15 Hulle het Miga na die koning toe gebring. Agab het vir hom gevra: “Miga, moet ons teen Ramot in Gilead gaan veg of nie?” “Gaan maar,” het Miga gesê. “Die Here sal Ramot in u hand gee.”
16 Agab het skerp geantwoord: “Luister hier, Miga, hoeveel keer moet ek vir jou sê om die waarheid in die Naam van die Here te praat?”
17 “Goed dan,” het Miga gesê. “Ek sien Israel oral op die heuwels rondloop. Hulle is soos skape sonder ’n herder. Die Here sê dat hulle nie ’n koning het nie. Laat hulle maar in vrede huis toe gaan.”
18 Agab het toe vir Josafat gesê: “Dit is net soos ek gesê het. Hierdie man voorspel nooit vir my iets goeds nie. Hy sê net altyd slegte dinge.”
19 Miga het voortgegaan en gesê: “Hoor wat sê die Here verder: Ek het die Here in die hemel op sy troon sien sit. Rondom Hom was hemelwesens.
20 Toe het die Here gevra: ‘Wie sal Agab gaan mislei sodat hy teen Ramot in Gilead sal optrek om daar doodgemaak te word?’ En die hemelwesens het onder mekaar gepraat.
21 Een van hulle het toe vir die Here gesê: ‘Ek sal gaan en Agab mislei.’